AP Kerk Sanddrift
Aktuele artikel
Home | Jeugwerf | Uit die Woord | Preke | Ons gemeente | Ontmoet die AP Kerk | Ontmoet ons leraar | Kontak ons | Aktuele artikel | Gemeentenuus

 
Kry geestelike luiheid die oorhand?

 

"Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond spuug"

Openbaring 3:15-16

In sekere kerke en gemeentes is daar 'n groot doodsheid wat heers onder die lidmate. Dis asof daar 'n toename in louheid en koudheid by sekere gemeentes te bespreur is. Dis 'n hartseer feit dat daar letterlik duisende lidmate van die vier gereformeerde kerke (AP Kerk; NG Kerk; Hervormde kerk en Gereformeerde Kerke) besig is om kerklos te word. Baie van hierdie mense wil nog aan die kerk behoort, maar is nie werklik bereid om deel te word van die werksaamhede of aksies nie. Daar is 'n klein groepie gelowiges wat hard werk en moeite doen in baie gemeentes, en die oorgrote meerderheid, sit net agteroor om bedien te word. 'n Klein groepie manne en vroue doen alles in hulle vermoë om die kerk aan die gang te hou, terwyl die res net aan die kerk wil behoort vir eie gemak en as hulle dalk die kerk sou nodig kry vir 'n doop, begrafnis en troue.

Kry geestelike luiheid die oorhand in die nuwe millennium? Dit is asof baie mense nie meer die besef het in hulle harte nie, dat dit 'n wonderlike voorreg is om die Here te dien en 'n kind van die Here te wees!

 

Christene is mense met 'n besondere roeping.

Die Here het elke kind van Hom begenadig met ryke seëninge en gawes:

U      God het sy Heilige Gees aan jou geskenk om in jou die geloof en bekering te werk. Hy gee ook aan jou die wonderlikste eienskappe naamlik die vrug van die Gees (Gal 5:22), sodat jy vir Hom tot eer kan lewe.

U      God gee ook aan ons besondere vermoeëns en gawes, om Hom en ons naaste te dien (Joh 13:15, Rom 12:6-8; 1 Kor 12).

U      God skep ook elke dag vir ons geleenthede om daardie gawes wat ons van Hom ontvang het, te gebruik in ons verhoudings, by die werk, by die skool, in die huislike omstandighede en by die kerk. Ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid (Ef 5:16) en ons moet alles doen van harte, soos vir die Here en nie vir mense nie (Kol 3:23).

U      Die Here het ook elkeen van ons geroep om sy getuies te wees (Mt 28:19), en om mense na Hom te lei. Ons elkeen moet mee werk aan die uitbreiding van God se koninkryk (Mt 6:33).

U      Ons het elkeen ook die verantwoordelikheid as sy gemeentelede om sy gemeente te bou (1 Kor 3). Jesus Christus is die Hoof van die kerk (Ef 4:22), en elkeen van ons is in 'n amp gestel. Daar is die amp van gelowige, en die ampte van leraar, ouderling en diaken.

Ons moet aan die Hoof van die kerk getrou wees aan ons roeping en opdragte.

 

Sommige Christene is geestelik lui

Ongelukkig is dit waar dat daar mense in die kerk is wat glad nie lief is vir werk nie. Daar word altyd verskoning gemaak hoekom hulle nie sekere opdragte kan uitvoer, of meer betrokke kan wees nie. Hulle doen niks anders in die kerk nie, en wil net graag bedien word deur ander. Eredienste, Bybelstudies en kerkfunksies word traag bygewoon, terwyl ander maar die moue moet oprol by fondsinsamelings. Bybellees word afgeskeep, en bid is iets wat dikwels vergeet word.

Hierdie geestelike luiheid is nie net by gewone lidmate te bespeur nie, maar selfs by sommige kerkraadslede. Huisbesoek in hulle wyk word oorgeslaan, kerkraads-vergaderings word misgeloop en nagmaalsvierings as 'n ontspannings-naweek gesien.

Self sekere predikante is nie onskuldig in hierdie verband nie! Sommige leraars het so lui geword dat hulle lidmate jare laas huisbesoek gehad het. Siekebesoek word oorgeslaan en vakansie reëlings word getref as dit ringsitting of sinodesitting is, sodat dit nie nodig is om dit by te woon nie.

Geestelike luiheid, louheid en koudheid blyk aan die orde van die dag te wees. Oral het ons geestelike passasiers wat met gevoude hande sit. Hierdie tipe van geestelike luiheid is iets wat 'n gemeente verlam. Is ywerloosheid by lidmate en ampsdraers, nie een van die redes waarom gemeentes sukkel en kwyn nie? 'n Lui mens wat nie werk nie word arm, net so word 'n Christen wat nie geestelik aktief is nie, geestelik arm. Deur sy geestelike luiheid ontwikkel hy nie die vermoeëns wat die Heilige Gees aan hom gegee het nie! Op hierdie luiheid volg die onvermoë van "Ek kan nie" of "Ek sien nie daarvoor kans nie".

Wat leer die Bybel oor luiheid?

Die Bybel spreek hom baie duidelik uit oor die luiaard:

"Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!" Spreuke 6:6.

"Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? So kom dan jou armoede " Spreuke 6:9 en 11.

"Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir dié wat hom stuur" Spreuke 10:26.

Paulus se raad is kort en kragtig: "as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie" 1 Thessalonicense 3:10.

Die Prediker skryf: "Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis" Pred 10:18.

Is jy 'n aktiewe gelowige?

Dink na oor die volgende:

U      Leef jy getrou aan die Here sodat die mense jou goeie werke kan sien en jou Vader wat in die hemele is verheerlik (Mt 5:13-16)? 'n Geestelike lui mens vergeet Maandag tot Saterdag dat hy gehoorsaam aan die Here moet wees.

U      Dra jy die evangelie van Jesus Chrsitus uit sodat ander ook na Hom gelei kan word (Mt 28:19)?

U      Gee jy kos vir dié wat honger is, water vir dié wat dors het, klere vir dié wat nie het nie? Besoek jy die sieke, die bejaarde, die gevangene (Mt 25:37-39)?

U      Hoeveel ouderlinge gee aandag aan hulle belofte voor die Here om as herders die lidmate te bemoedig, by te staan, in hulle geloof te versterk en voorbidding vir die gemeentelede te doen? Gee hulle aandag aan die dooplidmate en vermaan hulle die onverskilliges in broederlike liefde (bevestigingsformulier)?

U      Wat doen jy as diaken vir die armes en die weduwees? Is jy getrou en ywerig om die bydraes en goedere wat gegee word te versamel en te bewaar? Inspireer jy die lidmate om getrou te wees in die navolging van Christus, en om mekaar se laste te dra (Bevestigingsformulier)?

U      Hoeveel predikante wag gelate dat verlore skape na hulle toe moet kom, in plaas daarvan dat hy hulle gaan soek (Esg 33: 7-11 en Lk 15:1-7)?

U      Weet jy dat jy as lidmaat ook 'n taak het in die gemeente om te verrig? Paulus leer dat ons as lidmate van die gemeente mekaar as gelowiges moet dien, ondersteun, vermaan, bystaan, bemoedig en onderling moet opbou (Ef 4:16 en 1 Kor 12). Of laat ons dit maar gerieflikheidshalwe aan die predikant oor?

Ten slotte

Geestelike luiheid is oral te bespeur in ons tyd. Ek as Christen sal myself moet ondersoek in die lig van God se Woord of ek nie dalk deel hiervan is nie. Ons sal geestelike luiheid in ons kerke en gemeentes moet uitroei. Dis een van die redes waarom gemeentes sukkel en kwyn.

Wat maak 'n gemeente 'n warm, liefdevolle, groeiende en toegewyde gemeente? Die genade wat God gee verseker! Maar ook elke lidmaat wat hulle verantwoordelikheid besef, aanvaar en begin uitleef tot eer van die Here. As lidmate hulle geloof werklik begin ernstig opneem en dit begin uitleef met alles wat hulle het, begin die Heilige Gees se gawes ten volle in ons lewens en gemeente tot openbaring kom. Dit lei tot 'n werkende en groeiende kerk tot eer van God!

Mag die Here ons werkende vind, dié dag as Hy kom om ons te kom haal!

 

Ds. Adriaan Swart

 

 

Vir navrae: Epos gerus vir ds. Swart by vdmapk@xsinet.co.za